Onbeperkte Vergifnis
 

Ek is seker dat alle gelowiges op die een of ander stadium al gewonder het hoe op aarde dit vir God moontlik sal wees om hulle weereens te vergewe, nadat hulle vir die soveelste keer drooggemaak het. Daar moet tog sekerlik 'n beperking op Sy vergifnis wees en Hy moet verseker moeg word om keer na keer na dieselfde stories en belydenisse te luister!

Die waarheid is egter dat daar geen beperking is op God se vermoë om te vergewe, ons skoon te maak en ons te herstel nie. Ek kan nie aan een enkele vers in die Bybel dink wat 'n beperking plaas op die hoeveelheid kere wat God die sondaar sal vergewe nie. Dit is doodeenvoudig nie te bevraagteken nie - God se vergifnis en genade is sonder grense. Dink net aan Israel en hoeveel honderde kere hulle van die ergste sondes gepleeg het. Tog het die Here aangehou om hulle te vergewe en hulle te herstel. In die twee duisend jaar vanaf Abraham tot by Jesus, was daar net enkele geïsoleerde periodes wat die nasie werklik die Here gedien het. Tog het Hy voortgegaan om Sy hande na hulle uit te strek en met hulle te pleit om na Hom terug te keer (Romeine 10:210)

Dit is hartseer, maar die tyd het gekom en Hy het opgehou om met hulle te stry. Hy het toe na die heidene gedraai. Dit was nie omdat Hy nie meer vergifnis en genade vir Israel gehad het nie, maar omdat hulle nie na Hom wou draai nie. En dit is waar die probleem lê. Ons word moeg om vergifnis te vra, lank voordat Hy moeg word om dit vir ons te gee. En wanneer ons ophou om na Hom te draai om ons sondes te bely, kan Hy nie voortgaan om ons te vergewe nie. So lank as wat ons egter vra, sal Hy verseker vergewe.

Nou waarom hou ons dan op om te vra? Ons hou eerstens op om te vra omdat ons, net soos Israel, arrogant raak en so in ons sonde verval dat ons dit nie meer sien nie en daarom nie meer die behoefte het om dit te bely en vir genade te vra nie. Ongelukkig is daar heeltemal te veel mense wat nie meer die vuilheid van hulle sonde sien nie en daarom nie die behoefte het om tot die genadetroon te nader nie. Wanneer hulle dit wel doen, is dit met 'n kunsmatige, oppervlakkige en skynheilige houding van "as ek iets verkeerd gedoen het...". God stel nie belang in bekentenisse van so 'n aard nie, of in bekentenisse wat meer te doen het met selfregverdiging as belydenis nie.

Die tweede rede hoekom ons ophou om te vra is omdat ons skaam voel oor ons voortdurende en gereelde mislukkings. Ons kom by 'n punt waar ons voel ons net doodeenvoudig nie meer vir begenadiging kan vra nie. En dit is presies wat die duiwel wil hê - hy wil hê ons moet skaam voel en eerder vir God wegkruip as om ons Vader te nader sodat ons die genade en vergifnis wat Hy so vrylik skenk, kan ervaar.

As jy voel dat jy nie langer vir God wil "lastig val" nie, laat my toe om die volgende drie vrae te vra: Hoeveel keer het jy dieselfde sonde oor en oor gepleeg? Tien keer, 'n honderd keer of 'n duisend keer? Nou die tweede vraag: Hoeveel keer het jy weer gesondig sedert die laaste keer wat jy vergifnis gevra het? Laastens: Welke een van hierdie twee vrae se antwoord ken God? Die enigste sondes waarvan God weet, is die sondes wat ons nog nie bely het nie! Die res is weg, vergewe en vergete en die aftel daarvan het weer by nul begin.

Wanneer ons na die Vader gaan en vir Hom sê dat ons jammer is omdat ons dieselfde sonde vir die duisendste keer gepleeg het, is Sy antwoord dat Hy nie weet waarvan ons praat nie. Daardie sondes is reeds vergewe en Hy sê "oor hulle ongeregtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie" (Hebreërs 8:12). Die enigstes wat rekord hou is jyself en die aanklaer van ons medegelowiges. Daarom, wanneer ons die genadetroon nader, is die enigste sondes van belang - die enigste sondes wat God onthou - daardie sondes wat ons gedoen het in die tyd sedert die laaste keer wat ons na Hom gekom het vir vergifnis. Die res is vir ewig weg. As jy dus 'n kort rekord by die Here wil hou, moet dit vir 'n enkele oortreding wees. Wanneer jy dan vergifnis vra, sal dit net vir daardie een sonde wees. Die duisende ander bestaan nie meer nie